Windhoek Hoërskool
Klas van 1974 - 2014 Reünie
Ons was 120 matrieks sover ons kon vasstel. Tien van hulle is reeds oorlede waarvan ons weet, vyf is oorsee, vier het laat weet dat hulle glad nie belangstel nie, 28 kon ons nie opspoor nie en 45 van ons het die funksies bygewoon soos dit die ouens gepas het. Ons was ongelukkig nie by een funksie almal saam nie.
Die 74-matrieks het ons 40-jaar reünie van 3 – 6 Julie 2014 in Windhoek gehou. Van die ouens wat al vroeër in Windhoek was, het ‘n eerste herontmoeting by Bauernstube gehad.
Die Vrydagoggend is die ys gebreek met ‘n besoek aan die skool en koshuise met ‘n stadtoer daarna. Baie van ons het ‘n knop in die keel gekry toe die huidige WHSers die skoollied gesing het en die vlag gehys het. Het mens baie ver laat terug dink.
En toe begin die onthou – die sottekonsert in die klein saaltjie waar ons ook eksamen geskryf het, Saterdae gefliek het en volkspele gedoen het. Die gimnasium is amper onherkenbaar met al die moderne toerusting (kompetisie vir Virgin Active) en weer die onthou – die aaklige storte; die verskonings om tog net die periode uit te sit. En ook van die kere wat ons daar saalbyeenkoms gehad het.
Die nuwe saal waar ons matriekafskeid gehou het en eindeksamen geskryf het, het skielik kleiner gelyk as wat mens onthou. In die alumni-lokaal waar ons verversings geniet het, het van die ouens hul name in die 1974-strafregister herken. En al die herinneringe wat wakker gemaak is deur die foto’s teen die mure …. Louis Lessing het die ouens daarna in die skoolbus op ‘n toer deur die stad geneem en klink my dit was vet pret en groot gesels om op te vang.
Vrydagaand by Arebbusch was beplan om kans te gee vir formaliteite soos ‘n woord of twee van André Louw, dalk ‘n heildronk, bedankings en dies meer, maar daar het niks van gekom nie, want die mense het soos hulle aangekom het begin gesels. En die gesels het nie opgedroog nie. Ons klompie wat by Arebbusch self gebly het, het waar ons mekaar raakgeloop het net verder gesels.
Saterdagaand het die meeste mense mekaar al geken en toe is daar regtig partytjie gehou. Karel van der Bank het ons almal vermaak met sy danspassies.
Die groetery Saterdagaand was ook ‘n uitgerekte storie met die metgeselle wat maar geduldig toegekyk en gewag het om bed toe te gaan. ‘n Paar van ons het Sondag se erediens by Windhoek-Oos bygewoon waarna ons gegroet het en elkeen weer sy eie koers gekies het.
Baie dankie aan Mariana
Terwyl ek nou na 11 jaar weer deur al die fotos kyk besef ek watter enorme taak Mariana en haar helpers verrig het om hierdie reünie van die grond af te kry. So ver ek weet is sy nooit formeel bedank nie daarom wil ek nou na 11 jaar namens almal te sê:
Baie dankie Mariana vir al die tyd en moeite wat jy in die beplanning van die reünie ingesit het. Die naweek was wonderlik georganiseerd, betekenisvol en vol oomblikke wat ons herinner het hoe spesiaal ons gedeelde geskiedenis is.
Dit was lekker om weer kontak met ou vriende te maak, herinneringe op te haal en nuwe herinneringe saam te maak. Jou harde werk agter die skerms – die nuusbriewe, die koördinering en die skep van so ‘n verwelkomende atmosfeer – het nie ongemerk verbygegaan nie.
Ons as die Klas van 1974 kon nie vir beter gevra het nie. Dankie vir alles wat jy gedoen het om ons weer bymekaar te bring vir ‘n onvergeetlike ervaring.